Lewe

Christy is in Kaapstad gebore waar sy in 1984 met vioollesse by Maria Kelemen begin het.

Haar liefde vir die viool het onder die leiding van Marina Louw gegroei en ontwikkel en sy het ‘n B.Mus Graad aan die Universiteit van Kaapstad in 2000 behaal waar sy in solo-viool-uitvoering gespesialiseer het. Daar het sy onder Professor Jürgen Schwietering (voorheen ‘n student van Peter Guth en Dorothy Delay) studeer, waar sy verskeie toekennings ontvang het, o.a. die Imusicanti Kamerorkes Toekenning en ‘n jaarlikse vermelding op die Lys van Verdienste van die Dekaan van die Universiteit van Kaapstad, voordat sy met onderskeiding geslaag het.

Nadat sy meestersklasse by Professor José-Luis Garcia van die Reina Sofia Skool in Madrid bygewoon het, het Christy haar studies in Gent voortgesit onder Professor Michael Kugel. ‘n Studiebeurs van die Harry Crossley Stigting, asook ‘n beurs van die Internasionale Skye Stigting is aan haar toegeken. Nadat sy haar Meestersgraad in viool met onderskeiding behaal het, het sy ook die altviool vir ‘n ekstra jaar bestudeer.

Christy het reeds verskeie solo-uitvoerings en konserte in Kaapstad, Swellendam, Oudtshoorn se Klein Kunstefees, Pretoria, Gent, Brugge, Geel en Leuven gegee, asook kamermusiek-uitvoerings by die Kleipeda Internasionale Kamermusiekfees in Litoue. Met haar Strykkwartet, “Quartetto Brioso” het sy die 2de plek verower in die Internasionale Strykkwartet Kompetisie vir die bevordering van Vlaamse Muziek in 2003.

Christy gee al vir etlike jare vioollesse by die Jan Niklaas Stichting in Dworp, die Jeugd Muziek Atelier in Tildonk, en sy gee ook private onderrig. Sy is ‘n lid van die Ganda Ensemble en sy woon tans in Leuven in België, saam met haar man, dogter en seuntjie.